Wednesday, August 19, 2015

Resensie: Liefdestango deur Dirna Ackermann


Van die agterblad:

“Jy bly weg van daardie man.” Dis al wat Dané uit haar ma kry oor die man wat terug is op Kransbaai nadat hy agtien jaar gelede net padgegee het. Hoekom Dané se verbintenis met hom nie haar ma se goedkeuring wegdra nie, kan haar ma nie sê nie—of sy wil nie.

En in so ’n klein gemeenskappie is dit in ieder geval nie moontlik vir twee mense wat eens op ’n tyd so naby aan mekaar was om mekaar te vermy nie. Veral nie terwyl Dané en hy nog soveel vuur vir mekaar in hulle harte dra nie.

Maar toe die waarheid uiteindelik uitkom, wens Dané sy het liewer nooit geweet nie.

My resensie:

Ek het hierdie verhaal werklik geniet. Dis een van die min Romanzas waar die hoofkarakter ’n ouer vrou is en miskien is dit waarom dit vir my lekkerder as gewoonlik gelees het. Dané is nie meer ’n uilskuiken nie, maar steeds leef sy haar lewe volgens haar ouers se reëls ten koste van haar eie behoeftes en begeertes.

Hierdie is so sprekend van die tye waarin ons leef. Min van ons kan onomwonde verklaar dat ons leef soos ons gedroom het ons sou. Die lewe maak draaie met mens en sonder dat jy dit besef suig jou eie behoeftes naderhand aan die agterspeen. En net toe Dané besluit om haarself te laat geld, begin die poppe behoorlik dans.

Die skryfster slaag uitstekend daarin om haar lesers vinnig gevange te neem en mee te sleur in die verloop van Dané se lewe. Wanneer die alledaagse lewe vervaag en jy verlore raak in die storie tussen die buiteblaaie, spreek dit van goeie fiksie. Dis ’n boek wat ek nie kon neersit nie ten spyte van ’n berg werk wat gewag het en daarom verdien dit volpunte.

Wednesday, August 12, 2015

Georganiseerde Chaos


“Hoe organiseer jy jou lewe?” vra iemand nou die dag vir my.


“Organiseer?” sê ek oorbluf.

“Ja, man, hoe kry jy dit reg om by alles uit te kom?”

En daar staan ek met ’n mond vol tande. Die eerlike antwoord is dat ek nie ’n benul het van organiseer nie, maar ek kan dit mos nou nie so stel nie. Dis ’n ernstige vraag en ek wil aan de giggel gaan, want in my lewe heers daar altyd ’n mate van georganiseerde chaos.

Eerstens bly ek op ’n plasie (bietjie groter as ’n plot en baie kleiner as ’n plaas) waar ons spekuleer met kleinvee en groente verbou. Ons het nie permanente werkers nie so daar is altyd baie om te doen. Ek is mal oor die winter wanneer die verbouing van die groente bietjie afneem weens die koue op die hoëveld. Dan kry ek normaalweg tyd om voor die rekenaar te spandeer en my vingers oefening te gee. Vanaf September berei ons lande voor vir tamaties, kool, spinasie en aartappels en is die dag nooit jou eie nie.

Tweedens woon my skoonouers by ons en dit op sigself moet ’n duidelike aanduiding wees van die hoeveelheid chaos daar daagliks is om te organiseer. Hierdie jaar het siekte ons genoop om die eerste ses maande van die jaar ons dae te probeer beplan na aanleiding van die dokters se diagnoses en die behandeling wat ontvang moes word.

Derdens probeer ek stories vertel. Ek het nie minder as vyf halfvoltooide manuskripte wat iewers in ’n donker hoekie van my rekenaar sluimer tot ek die dag die tyd het om dit af te stof en klaar te skryf. Soms skryf ek aan twee boeke gelyk, wat op sigself soms katastrofiese gevolge het.

Hoe kom ek deur die dag? Deur te prioritiseer. Die belangrikste vraag wat ek vra is of dit kan wag tot later. As die antwoord nee is, is dit wat eerste gedoen word. As die antwoord ja is, vra ek net of daar ernstige gevolge gaan wees as ek dit uitstel en as die antwoord ja is, word dit na die eerste doen lysie geskuif.

Die ander lessie is om altyd notas te maak. Ek het ’n goeie geheue maar wanneer die wêreld om my verander in ’n Smartieboksie en ek voel soos ’n verkleurmannetjie, is my breinkrag soos halfgaar roereier. ’n Onmisbare notaboekie is my foon se Notes funksie. Van kruideniersware wat aangevul moet word tot belangrike take wat ek moet afhandel word daarop aangeteken. Die dae van alles sommerso onthou is verby—daarvoor is die pas van ons daaglikse lewe te vinnig en die gevolge as jy ’n belangrike afspraak vergeet, te ernstig.

Dus die kort antwoord op haar vraag: Kry jou prioriteite reg en maak notas.

Hoe voorkom jy chaos in jou dag?