Monday, February 15, 2016

Anders: 'n Paranormale Liefdesverhaal

Vandag is Anders, 'n Paranormale Liefdesverhaal in Afrikaans vrygestel in die meeste aanlyn winkels en ook in gedrukte formaat by Amazon en Takealot.com. 'n Lys en skakels na die gewildste aanlynwinkels is op die boeke-blad aangebring.




Anders is die eerste boek in hierdie genre wat ek in Afrikaans aanpak. Die boek het werklik lank geneem om te voltooi omdat daar nie juis soortgelyke leesstof in Afrikaans is nie. Dis nie 'n populêre fiksieafdeling in Afrikaans nie en ek het geen verwysingsraamwerk gehad om te gebruik nie.

Paranormal Romance is 'n groot en gewilde kategorie in Engels, maar ek het nog nie regtig iets soortgelyk in Afrikaans raakgelees nie. Omdat ons mark so klein is, dink ek skrywers huiwer om hierdie stories te vertel, behalwe in die jong volwassene en tiener kategorië. Verder klink die paranormale terme soveel beter in Engels en wanneer jy praat van 'n shifter weet almal wat jy bedoel. Die Afrikaanse terme is egter nie so goed gevestig nie en soms het dit hare-uittrek geverg om 'n term te vind wat nie té anglisisties is nie.

Die verhaal speel ook grootliks af in die Kalahari—'n streek wat my na aan die hart lê. Daar is net iets aan die warm, dorre vlaktes wat spreek tot jou siel. Toe ek 'n plek moes kies vir Karlia om heen te vlug, was daar vir my geen ander plek wat beter gepas het nie. Die Kalahari leen hom tot stille selfondersoek en soms ook geweldadige aanvaarding van dit wat jy is of nie is nie. Die isolasie dwing mens om jou lewe in perspektief te sien en ware karakter te ontdek.

Maar bowenal is Anders 'n liefdesverhaal. Sonder liefde is die lewe leeg en betekenisloos. Almal het liefde nodig—hetsy selfliefde, naasteliefde of die liefde vir 'n sielsgenoot. Soms is dit nodig dat mens weer hierdie noodsaaklikheid opnuut besef om 'n vervulde lewe te lei.

Hoop julle lees heerlik aan die boek en moet asseblief nie huiwer om my te laat weet wat julle dink nie.

Proe-stukkie uit Anders: 'n Paranormale Liefdesverhaal

Daar is ’n vreemde ondertoon in Armand se emosies. Hy voer 'n innerlike stryd, maar die emosies is 'n onsamehangende warboel. Wanneer hy omdraai om die melk in die yskas terug te sit, loop hy tromp-op teen haar vas. Sy het so gestaan en droom dat sy nie gesien het hy het die koffie reeds gemaak nie. Sy probeer uit sy pad staan, maar verloor haar balans. Dadelik gaan sy arms om haar en trek hy haar teen hom vas.

Haar asem stol in haar bors en haar mond word droog. Daar is nie tyd om sy gedagtes te analiseer voordat hy haar ken met sy vinger lig en sy lippe saggies op hare neerkom nie. Verwoestende emosies spoel deur haar. Begeerte, honger, opgewondenheid en 'n onmeetbare teerheid. Sy lippe raak dringender op hare en Karlia se arms gly asof vanself om sy skouers. Sy hare is sag onder haar vingers en sy draai die swart lokke om haar wysvinger. Wanneer sy tong toegang vra, skok dit haar tot nugterheid.

Wat doen sy? ’n Verhouding is buite die kwessie al is die man by haar se emosies 'n refleksie van haar eie. Sy kom kruip juis in die Kalahari weg. Die gevoelens wat hy aanwakker in haar, is beslis nie rustig nie en is nie goed vir haar verstandelike gesondheid nie.

Saggies druk sy hom weg en hy laat haar dadelik gaan. Sy oë is donker poele van begeerte wat aanklank vind in haar siel. Hulle asems jaag en sy weet as sy nie die situasie ontlont nie, gaan dit veel verder gaan as wat enige van hulle bedoel het.

"Ek gaan nie om verskoning vra nie. Daarvoor het ek te veel respek vir jou. Ek wou al van die eerste aand af weet of jou lippe werklik so sag is as wat dit lyk."

Karlia draai haar rug op hom. "Ek is bly jy vra nie om verskoning nie, want dit sal 'n leuen wees." Sy gryp die koppie en stap sitkamer toe. Wanneer sy in die stoel neersak, sien sy hy het haar geluidloos gevolg. Hoe kry die man dit reg om so stil te beweeg?

"Enige verhouding tussen ons is doodgebore. Ons wêrelde verskil te veel."

Armand gaan sit stadig op die stoel oorkant haar. "Hoekom dink jy so? Ons wêrelde is nou een. Hier in afsondering leer mens jouself ken."

"Nee, Armand. Dit mag dalk vir jou so wees, maar ek weet wie ek is en ek wil nie betrokke raak in enige verhouding nie."

Hy kyk haar vraend aan. "Hoekom? Waarvan hardloop jy weg?"

Sy skud haar kop. "Dis privaat. Ek voel gevly dat jy belangstel, maar ek kan en wil nie betrokke raak nie. Laat ons net vriende bly—as ons selfs dit is op die oomblik."

"Vriende deel hulle geheime. Vriende vertrou mekaar."

"Dan leer ken ons mekaar. Sonder die komplikasies van hormone wat 'n rol speel." Sy ignoreer die stemmetjie in haar kop wat waarsku dat dit reeds te laat is. Haar lyf moet leer om haar verstand te gehoorsaam. Nie andersom nie. Sy het nog nooit toegegee aan die begeertes van die vlees nie en is ook nie van plan om dit nou te doen nie.

"Is jy nie bietjie naïef nie? Ons is twee mense wat mekaar aantreklik vind op 'n afgeleë plek. Net die omstandighede alleen maak dit moeilik om die aantrekkingskrag tussen ons te ignoreer. Hoekom dit nie 'n kans gee en kyk waarheen dit lei nie?"

Hemel weet, dit sou soveel makliker wees. "Nee, Armand. Ons soek vir moeilikheid wat kon bly. Buitendien ken ons mekaar nie goed genoeg nie."

Hy neem die laaste sluk van sy koffie en staan op. Hy lyk moeg. "Ons sal mekaar wel leer ken. Hier moet jy op mekaar staatmaak." Hy stap na die kombuis en Karlia volg hom. Sy sit haar koppie by syne in die wasbak neer voordat sy die agterdeur oophou.

"Moet ek jou nie gou huis toe neem nie? Dit is regtig al laat."

Hy skud sy kop. "Moenie jou oor my bekommer nie. Ek ken my pad in die nag." Hy vryf met sy vinger oor haar wang en Karlia sluit haar oë teen die emosie wat in die aanraking opgesluit lê. Sy sluk swaar.

"Nou goed. Dan sien ek jou weer."

"Tot netnou Karlia." Sy hand streel 'n oomblik oor haar skouer voordat hy dit laat sak, omdraai en wegstap in die nag.

Karlia kyk hom agterna totdat sy silhouette verdwyn. Sy druk die deur agter haar toe en draai die sleutel in die slot. Soos 'n outomaat stap sy kamer toe en sit die ligte agter haar af. Slaap gaan vanaand moeilik wees.