Monday, March 7, 2016

Anders: 'n Paranormale Liefdesverhaal Halfprys by Smashwords.com

anders Kindle

 

 

 

Tot 12 Maart 2016 is Anders: 'n Paranormale Liefdesverhaal beskikbaar teen halfprys by Smashword.com. Gebruik die kode RAE50 wanneer die transaksie voltooi word om dit te kry teen $1-50.


Hier is 'n eksklusiewe proestukkie uit Anders:


Soos die vorige keer, stap sy tot by die plaat bome by die spruit voordat sy met haar voete in die koel water gaan sit. Sy stut haar rug teen 'n boomstam en bid dat die yslike miere wat sy al in die omgewing opgemerk het, verkies om in die nag te slaap. Die sagte vloei van die water is soos balsem op haar siel. ’n Naguiltjie roep na sy maatjie vanuit ’n nabye boom en in die vêrte, tjank ’n jakkals.

Dan voel Karlia sy teenwoordigheid. Die wolf is naby en glad nie aggressief nie. Sy sit roerloos en wag dat die dier naderkom. Sekondes tik om in minute en dan sien sy hom. Skaars vyf meter van haar af aan die oorkant van die smal stroompie. Hy lê met sy kop op sy voorpote terwyl sy oë haar elke beweging volg. Nuuskierigheid straal van hom uit.

"Jy is net so nuuskierig soos ek nè?" Karlia skrik vir haar eie stem. Het sy nou al haar varkies verloor deur met 'n wolf, wat sy nog glad nie oortuig is werklik bestaan nie, te praat? Sy trek haar skouers op. As hy bloot 'n figment van haar verbeelding is, kan sy net sowel met hom praat. Wie is daar om te hoor en oor te vertel? Indien hy werklik bestaan, kan hy ook nie dit wat hy hoor oorvertel nie.

Die wolf se ore lig en ’n sagte tjankgeluid trek Karlia se aandag. Hy draai sy kop skuins asof in stille vraag.

"Ons is darem twee onnatuurlike wesens. Jy, heel uit jou area in 'n land wat nie wilde wolwe het nie. En ek wat jou emosies lees." Sy waai met haar hand. "Altans ek dink so. Deesdae is ek ook nie meer so seker nie."

Met geen reaksie van die wolf wat aandui dat hy enigsins iets anders ervaar as blote nuuskierigheid nie, gaan Karlia voort. "Jy weet, met jou kan ek praat sonder om te wonder of iemand gaan dink ek is mal en hoort in 'n gestig. Ja, daar is mense wat so sal dink. Baie van hulle. Wat is nou natuurlik daaraan om ander se emosies aan te voel? Dis nog aanvaarbaar, maar wanneer jy ander mense se gedagtes lees, dan voel jy baie daarna om jouself in 'n gestig te laat opneem." Sy kyk die wolf vraend aan. "Jy sal tog nie verstaan nie, maar 'n normale mens is nie veronderstel om weet wat ander dink nie."

Karlia trek aan 'n nabye graspol en breek 'n stukkie harde gras af. Sy draai die grassie om en om in haar vingers. "Kyk nou vir Jessica. Sy het darem 'n verskoning vir haar optrede met haar dwelmverslawing. Watter verskoning het ek as die mens by my se gedagtes my so ontstel dat ek vergeet om my masker van onkunde op te hou? Nee Wolfie, die lewe is nie regverdig nie."

Vanaf die wolf kry sy nou meer as blote nuuskierigheid. Daar is ook 'n simpatieke gevoel en geamuseerdheid wat sy ontvang. "Sien wat ek bedoel. Hier voel ek aan dat jy soos 'n mens my jammer kry en ook stilletjies vir my lag. Dis mos simpel man. Dis menslike emosies wat nie by 'n dier plaasvind nie. Tog voel ek dit vir die waarheid aan. Geen wonder my suster dink ek is nie lekker in my kop nie."

Die wolf tjank saggies en kruip 'n entjie nader aan die stroompie. "Jy bly net daar aan jou kant. Al weet ek nog nie of jy blote verbeelding is nie, wil ek nie graag op die harde manier uitvind jy bestaan regtig nie. Netnou besluit jy ek lyk vir jou na jou volgende aandete."

Wanneer die wolf proes, sweer Karlia hy lag vir haar. Sy moet dit aanvaar. Haar verstand het haar volkome verlaat. Hier sit sy met 'n wolf en praat asof dit 'n mens is en dink sowaar die wolf verstaan haar. Nee, haar ma moet maar die kamer langs hare vir Karlia voorberei want ten spyte van haar vlug na die afsondering van die Kalahari, lyk dit nie of haar brein enigsins gaan verbeter nie.

"Nou is ek regtig besig om mal te raak," fluister sy. Sy sluit haar oë en dwing die wolf om te verdwyn sodat sy weet dit is net 'n sinsbedrog wat sy ervaar. Die emosies van die wolf word meer intens en Karlia skuif ongemaklik regopper teen die boomstam. Hierdie wolf soek 'n maat. En as sy haar nie heeltemal verbeel nie, dink hy sy is 'n kandidaat. Rillings gly langs haar ruggraat af.

"Nee, jy is verkeerd. Ek mag nooit jou maat wees nie. Jy is 'n wolf en ek is 'n mens. Ons mag vriende wees, maar niks meer nie." Die paringsdrang by die wolf groei en Karlia kry ’n goeie dosis aggressie ook deur.

"Okei, ek gaan nou spore maak en ophou praat sodat jy kalmeer."

Sy druk haarself op met haar hande maar ’n gegrom vries haar beweging. Oorkant die stroompie het die wolf op sy voete gekom en wys sy tande vir haar. As dit haar verbeelding is wat parte met haar speel, is hierdie nou nie meer snaaks nie. Vrees klem om haar hart en sweet slaan op haar bo-lip uit. Sê nou net die wolf is nie iets wat opgetower is deur haar verbeelding nie en hy bestaan werklik. Dan is sy mos nou kniediep in die moeilikheid—moeilikheid wat deur haar eie nuuskierigheid veroorsaak is.

*****************