Monday, August 18, 2014

Vyf Kerse vir 'n Facebook-Vriendin



Kerse het deur die eeue heen verskillende betekenisse vir verskillende mense gehad. Soms is die kers romanties, soms 'n teken van spiritualisme, soms om te onthou en soms, soos vandag, net om te sê ek dink aan jou. Maar soos gewoonlik span ek die kar voor die perde in. Eers 'n bietjie geskiedenis, sodat almal kan verstaan hoekom hierdie vyf kerse my so na aan die hart lê.

Vandag, presies een jaar gelede, het ek met verwondering na die foto's gekyk wat my Facebook-vriendin op haar profiel gelaai het. Sy het pas 'n nuwe ouma geword van die mooiste babadogtertjie met 'n vol gesiggie en hemelblou ogies. Ek het saam met haar gejubel en met oopmond na die nuutste wonderwerkie gestaar, want sien, ek was ook op pad om 'n splinternuwe ouma te word. Elke foto wat sy gelaai het om met die res van die wêreld te deel het ek bewonder en gedink ek verstaan hoe trots sy voel, hoe vol haar hart moet wees.

Ek was verkeerd. Eers toe ek net meer as vier maande gelede my eie kleindogter in my arms gehou het, het ek regtig verstaan. Geen mens wat nie self 'n ouma is nie, kan daardie oombliklike volheid in jou hart, daardie byna bo-menslike liefde wat bot, bloei en jou hele wese volrank, verstaan nie —nie regtig nie. Die oomblik wat die besef deurdring dat hierdie volmaakte, Godgegewe geskenk, deel is van jou eie liefde eerstens vir die pa van jou dogter en tweedens daardie onbreekbare, onverskrokke liefde wat 'n ma vir haar kind het. En jy besef jy is sandkorreltjie klein en jy kruip jou knieë nerf-af om te probeer dankie sê terwyl jy weet die ses-en-twintig letters van die alfabet sal nooit genoeg woorde kan saamflans nie.

Hierdie twee prag-kinders het saam gegroei en ontwikkel vir meer as vier maande en elke foto was 'n plesier om te bestudeer. Sjoe, maar sy het groot geword van die eerste foto wat ek gesien het en ouma lyk so gelukkig soos net 'n ouma kan wanneer sy haar kleindogter vashou. Ek het asem opgehou vir die aankondiging dat sy haar eerste treë gegee het.


Maar op 31 Julie 2014 lees ek die mees ontstellende berig. Die Here het Elena kom haal en my Facebook-vriendin is stukkend. Deur die trane probeer ek my indink hoe sy moet voel, maar die seer is heeltemal te veel. Ek WIL nie weet nie en steeds brand die hartseer 'n gat in my bors. Sê nou dit was Liyane? Sal ek dit ooit kan verwerk? Kan enige iemand dit verwerk? Elf maande oud en so pragtig en gesond. Ek wil skree en skel en vra WAAROM? Waarom 'n onskuldige kind wat deur almal om haar liefgehad was, gekoester was en so welkom was? Kyk hoeveel ander kinders word verwaardloos, is onwelkom, word mishandel. Hoekom dan nou hierdie enetjie so voor haar tyd neem?

My Facebook-vriendin se pyn is duidelik, skerp en soos 'n vlam wat deur haar normaalweg vrolike insette skroei. Elke keer wil ek vir haar sê ek verstaan. Maar ek verstaan NIE. Niemand kan nie. Tensy dieselfde smeltkroes vir jou gedeel was, sal jy nie verstaan nie. En ek huil weer omdat ek nie die woorde het om te sê ek is jammer nie, om te sê ek bid elke aand vir jou as ouma nie. Woorde wat so dor klink soos die woestyn op 'n wolklose dag.

So vandag steek ek nie net een kers aan vir Elena nie—ek steek vyf aan. Elena, want al het ek haar nooit self ontmoet nie, voel dit asof ek haar ken deur haar ouma. Irene, want geen jong moeder verdien hierdie hartseer wat aan haar uitgedeel is nie. Edmundo, want jy het al op skool my hart gesteel as vriend vir my seun, Oupa Ferreira, want daardie hart moet in stukke wees en nou moet hy sterk wees vir die res. Laaste en belangrikste, vir Ann, want al het ek nie woorde nie, hierdie ouma-seer het baie meer as 'n pleister nodig.

Hierdie lirieke sê dit so mooi:  


Daughty - Gone Too Soon