Friday, October 3, 2014

'n Vrou is Niemand se Speelding

[caption id="" align="aligncenter" width="600"] Image Courtesy of Valdemaras http://valdemaras.deviantart.com/art/White-Rose-79624850[/caption]

Mishandeling van vroue neem soveel vorme aan dat mens soms wonder hoe ’n vrou in vandag se lewe oorleef. Wat my die meeste hinder is dat die fisiese geweld baie meer blootstelling kry in die media —wat goed is—maar die emosionele teistering, verkleinering, mishandeling en aftakeling word selde, indien ooit, belig. In die tyd wat ek as Kommissaris van die Kinderhof gedien het, het ek die impak van hierdie emosionele mishandeling op families eerstehands gesien. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek het nie ’n graad in sielkunde of berading nie en die opinies wat ek hier vorm is geheel en al my eie en gebaseer op dit wat ek self gesien het gedurende my tyd as landdros.


Miskien gooi ek nou die jakkals in die hoenderhok en ontketen ek ’n hele herrie (gelukkig lees min mense my gerammel) maar ek was altyd van die opinie dat die fondasie van alle verhoudings wedersydse respek vir mekaar moet wees. Indien kinders van babatyd af geleer word om mekaar en ander persone se eiendom te respekteer, kan baie van ons sosiale probleme opgelos word. Dis ’n oorvereenvoudiging, maar tog kring dit wyd uit. Leer kinders dat alle mense, ongeag wie of wat die persoon is, respek verdien en moenie persoonlike vooroordele oordra aan die kinders nie. As kinders die basiese beginsels van respek geleer word, sal daar heelwat minder volwassenes wees wat met haat in hulle harte rondloop. Laat die kind self besluit wie verdien die meeste respek en wie nie. (My beskeie mening.)


Mans wat vrouens mishandel, hetsy fisies of emosioneel, het volgens my ’n algehele gebrek aan respek vir die menswees en vrouwees van die persoon wat hulle teiken. Hoe kan jy iemand respekteer as jy voel daardie persoon is jou besitting om mee te maak wat jy wil? Ongelukkig word hierdie gedagte prosesse dikwels aan die kinders oorgedra as aanvaarbare gedragspatrone en die hele siek siklus herhaal hom keer op keer.


In my laaste boek, Speelgoed, is die hoofkarakter ’n vrou wat besluit het dat sy nooit weer iemand se speelding sal wees nie. Na ’n huwelik gevul met geweld en emosionele aftakeling, het sy mans afgesweer. Ek het met opset probeer om die tema lig te hou en net na die impak van hierdie mishandeling op haar eie ervaring van vrouwees te ontbloot. In teenstelling met wat meeste mans dink, het vroue ook lyflike behoeftes wat net so lank geïgnoreer kan word. Wat die vrou daaromtrent doen, kan soms katastrofiese gevolge hê.


Hier is ’n uittreksel uit die boek:


Later kyk Annelie die verdwynende liggies van die motors agterna voordat sy omdraai en terugstap in die huis. Sy sal vir Wynand moet waarsku oor Barend. Hoe sy dit gaan doen sonder dat haar neef kapmesse begin rondgooi weet sy nie, maar dis beter dat hy voorbereid is op die moontlikheid dat Barend hier kan opdaag. Sy wil nie nog ’n moord verduidelik nie. Hierdie keer sal die speurder werklik nie glo sy het niks daarmee te doen as haar neef haar eksman vermoor nie. Hy sal die samelewing ’n guns bewys, maar sy is seker die regstelsel sal dit nie as versagtende omstandighede aanvaar nie.


In die kombuis is Wynand nog besig met die laaste voorbereidings vir die volgende dag se spyskaart. Annelie wip op ’n blinkskoon toonbank en wag vir die onafwendbare skrobbering wat altyd volg.


“Nig, jy beter ’n bleddie goeie rede hê om op my skoon kaste te klim.” Hy gluur haar ’n oomblik aan voordat hy die vadoek oor sy skouer slinger en met sy heup teen die kas by haar staan.


“Hoekom lyk jy asof die honde jou kos afgeneem het?”


Sy trek haar skouers op. “Ek het gedink ek is vir altyd van hom ontslae.”


Wynand frons. “Van wie?” Hy trek sy asem skerp in. “Het hulle Barend vrygelaat?”


“Nee, hy het ontsnap.”


“O hel.”


Wynand kreun as hy sy groot lyf op die kas langs haar ophys. Die kas kraak in protes. Gaan die granietblaaie werklik sterk genoeg wees om sy meer as honderd kilogram te dra? Miskien as sy doodstil sit.


“Dink jy hy sal …”


“Hierheen kom?” Sy haal haar skouers op. “Ek weet nie, maar dit is ’n moontlikheid. Hy het my pa vermoor vir sy geld wat hy toe nooit gekry het nie.”


“En nou gaan hy dink dit kom hom toe sodat hy vir hom ’n lekker lewe in een of ander obskure land kan gaan uitwerk.”


“Miskien. Maar miskien sal hy hom net uit die voete maak. Hy is nie onnosel nie. Die polisie sal hom heel eerste hier kom soek.”


Wynand snork. “Dan is hulle ook idiote. Jy het so lank voor die besigheid niks met hom te doen gehad nie ek weet nie hoe hulle ooit sal kan dink jy is betrokke nie.”


“Ek het gister weer die speurder wat die saak destyds ondersoek het, in die stad raakgeloop. Nou wonder ek of dit toeval was.”


Wynand frons. “Waar het jy hom raakgeloop? Hy werk mos nie in Pretoria nie.”


Annelie kan die blos wat oor haar wange sprei nie keer nie. “Jy wil nie weet nie.”


Een kyk na haar rooi gesig en Wynand vryf sy hande teenmekaar en grinnik. “Uit daarmee. Waar was jy toe jy veronderstel was om voorraad op te laai?”


“Maak nie saak nie,” brom sy en mik om van die kas af te spring. Hy hou haar egter maklik met die een hand terug.


“O nee ou Nig. So maklik kom jy nie weg nie.”


Annelie sug. Kon sy nie maar haar groot mond toe gehou het nie? Nou sal hy aanhou totdat hy dit uit haar het en dan die alewige geterg.


“By ’n sekswinkel in East Lynn.”


Vir die eerste keer sedert sy Wynand ken is hy stil. Sy loer in sy rigting. Sy mond gaan oop en hy haal diep asem en dan maak hy weer sy mond toe. Sy oë soek deur die kombuis, maar kom nie tot rus nie. Dan kyk hy haar weer aan en skud sy kop.


“Sjame.”


“Ag, gaan bars man. Dit was vir die damesgroep en ek het op die ou einde niks gekoop nie.” Sy gaan hom beslis nie vertel waarom sy niks gekoop het nie.


“Nig, as ek my droomvrou in ’n sekswinkel raakloop sou ek ook maar maak of ek by verkeerde plek ingestap het.”


Sy klim van die kas af en swaai haar vinger beskuldigend onder sy neus. “Mens kan jou ook niks vertel nie. Ek gaan slaap, so moenie te veel raas nie.”


Sy lag dawer deur die kombuis. “’n Sekswinkel. Wie sou kon raai my nig raak so desperaat?”


Hy lag steeds wanneer Annelie die deur agter haar toetrek en in die gang afstap. Al kan hulle mekaar se siele versondig, was Wynand haar redding. As hy en sy vrou, Grace nie ingestem het om hier by haar te kom werk nie, was die gasteplaas nie moontlik nie.


Die woonsteldeur klik sag agter haar toe en sy sak op die bed neer. Soos ’n outomaat trek sy die rekkie uit haar vlegsel en kam haar hare uit. Hugo en Barend hoort nie in haar lewe nie. Hoe minder sy van hulle sien, hoe beter. Hulle verteenwoordig ’n see van pyn waarin sy byna verdrink het. Nie weer nie. Sy sal geen man weer toelaat om haar menswees van haar te stroop nie. As sy Hugo uit haar gedagtes verban, verbreek sy die mag wat hy oor haar het en sal haar gekneusde vrouwees haar geheim bly. 


 Speelgoed is beskikbaar by Amazon, Kobo, Kalahari en verskeie ander aanlyk boekwinkels.