Monday, March 7, 2016

Anders: 'n Paranormale Liefdesverhaal Halfprys by Smashwords.com





 



Tot 12 Maart 2016 is Anders: 'n Paranormale Liefdesverhaal beskikbaar teen halfprys by Smashwords.com. Gebruik die kode RAE50 wanneer die transaksie voltooi word om dit te kry teen $1-50.


Hier is 'n eksklusiewe proestukkie uit Anders:


Soos die vorige keer, stap sy tot by die plaat bome by die spruit voordat sy met haar voete in die koel water gaan sit. Sy stut haar rug teen 'n boomstam en bid dat die yslike miere wat sy al in die omgewing opgemerk het, verkies om in die nag te slaap. Die sagte vloei van die water is soos balsem op haar siel. ’n Naguiltjie roep na sy maatjie vanuit ’n nabye boom en in die vêrte, tjank ’n jakkals.

Dan voel Karlia sy teenwoordigheid. Die wolf is naby en glad nie aggressief nie. Sy sit roerloos en wag dat die dier naderkom. Sekondes tik om in minute en dan sien sy hom. Skaars vyf meter van haar af aan die oorkant van die smal stroompie. Hy lê met sy kop op sy voorpote terwyl sy oë haar elke beweging volg. Nuuskierigheid straal van hom uit.

"Jy is net so nuuskierig soos ek nè?" Karlia skrik vir haar eie stem. Het sy nou al haar varkies verloor deur met 'n wolf, wat sy nog glad nie oortuig is werklik bestaan nie, te praat? Sy trek haar skouers op. As hy bloot 'n figment van haar verbeelding is, kan sy net sowel met hom praat. Wie is daar om te hoor en oor te vertel? Indien hy werklik bestaan, kan hy ook nie dit wat hy hoor oorvertel nie.

Die wolf se ore lig en ’n sagte tjankgeluid trek Karlia se aandag. Hy draai sy kop skuins asof in stille vraag.

"Ons is darem twee onnatuurlike wesens. Jy, heel uit jou area in 'n land wat nie wilde wolwe het nie. En ek wat jou emosies lees." Sy waai met haar hand. "Altans ek dink so. Deesdae is ek ook nie meer so seker nie."

Met geen reaksie van die wolf wat aandui dat hy enigsins iets anders ervaar as blote nuuskierigheid nie, gaan Karlia voort. "Jy weet, met jou kan ek praat sonder om te wonder of iemand gaan dink ek is mal en hoort in 'n gestig. Ja, daar is mense wat so sal dink. Baie van hulle. Wat is nou natuurlik daaraan om ander se emosies aan te voel? Dis nog aanvaarbaar, maar wanneer jy ander mense se gedagtes lees, dan voel jy baie daarna om jouself in 'n gestig te laat opneem." Sy kyk die wolf vraend aan. "Jy sal tog nie verstaan nie, maar 'n normale mens is nie veronderstel om weet wat ander dink nie."

Karlia trek aan 'n nabye graspol en breek 'n stukkie harde gras af. Sy draai die grassie om en om in haar vingers. "Kyk nou vir Jessica. Sy het darem 'n verskoning vir haar optrede met haar dwelmverslawing. Watter verskoning het ek as die mens by my se gedagtes my so ontstel dat ek vergeet om my masker van onkunde op te hou? Nee Wolfie, die lewe is nie regverdig nie."

Vanaf die wolf kry sy nou meer as blote nuuskierigheid. Daar is ook 'n simpatieke gevoel en geamuseerdheid wat sy ontvang. "Sien wat ek bedoel. Hier voel ek aan dat jy soos 'n mens my jammer kry en ook stilletjies vir my lag. Dis mos simpel man. Dis menslike emosies wat nie by 'n dier plaasvind nie. Tog voel ek dit vir die waarheid aan. Geen wonder my suster dink ek is nie lekker in my kop nie."

Die wolf tjank saggies en kruip 'n entjie nader aan die stroompie. "Jy bly net daar aan jou kant. Al weet ek nog nie of jy blote verbeelding is nie, wil ek nie graag op die harde manier uitvind jy bestaan regtig nie. Netnou besluit jy ek lyk vir jou na jou volgende aandete."

Wanneer die wolf proes, sweer Karlia hy lag vir haar. Sy moet dit aanvaar. Haar verstand het haar volkome verlaat. Hier sit sy met 'n wolf en praat asof dit 'n mens is en dink sowaar die wolf verstaan haar. Nee, haar ma moet maar die kamer langs hare vir Karlia voorberei want ten spyte van haar vlug na die afsondering van die Kalahari, lyk dit nie of haar brein enigsins gaan verbeter nie.

"Nou is ek regtig besig om mal te raak," fluister sy. Sy sluit haar oë en dwing die wolf om te verdwyn sodat sy weet dit is net 'n sinsbedrog wat sy ervaar. Die emosies van die wolf word meer intens en Karlia skuif ongemaklik regopper teen die boomstam. Hierdie wolf soek 'n maat. En as sy haar nie heeltemal verbeel nie, dink hy sy is 'n kandidaat. Rillings gly langs haar ruggraat af.

"Nee, jy is verkeerd. Ek mag nooit jou maat wees nie. Jy is 'n wolf en ek is 'n mens. Ons mag vriende wees, maar niks meer nie." Die paringsdrang by die wolf groei en Karlia kry ’n goeie dosis aggressie ook deur.

"Okei, ek gaan nou spore maak en ophou praat sodat jy kalmeer."

Sy druk haarself op met haar hande maar ’n gegrom vries haar beweging. Oorkant die stroompie het die wolf op sy voete gekom en wys sy tande vir haar. As dit haar verbeelding is wat parte met haar speel, is hierdie nou nie meer snaaks nie. Vrees klem om haar hart en sweet slaan op haar bo-lip uit. Sê nou net die wolf is nie iets wat opgetower is deur haar verbeelding nie en hy bestaan werklik. Dan is sy mos nou kniediep in die moeilikheid—moeilikheid wat deur haar eie nuuskierigheid veroorsaak is.

*****************

Monday, February 15, 2016

Anders: 'n Paranormale Liefdesverhaal

Vandag is Anders, 'n Paranormale Liefdesverhaal in Afrikaans vrygestel in die meeste aanlyn winkels en ook in gedrukte formaat by Amazon en Takealot.com. 'n Lys en skakels na die gewildste aanlynwinkels is op die boeke-blad aangebring.




Anders is die eerste boek in hierdie genre wat ek in Afrikaans aanpak. Die boek het werklik lank geneem om te voltooi omdat daar nie juis soortgelyke leesstof in Afrikaans is nie. Dis nie 'n populêre fiksieafdeling in Afrikaans nie en ek het geen verwysingsraamwerk gehad om te gebruik nie.

Paranormal Romance is 'n groot en gewilde kategorie in Engels, maar ek het nog nie regtig iets soortgelyk in Afrikaans raakgelees nie. Omdat ons mark so klein is, dink ek skrywers huiwer om hierdie stories te vertel, behalwe in die jong volwassene en tiener kategorië. Verder klink die paranormale terme soveel beter in Engels en wanneer jy praat van 'n shifter weet almal wat jy bedoel. Die Afrikaanse terme is egter nie so goed gevestig nie en soms het dit hare-uittrek geverg om 'n term te vind wat nie té anglisisties is nie.

Die verhaal speel ook grootliks af in die Kalahari—'n streek wat my na aan die hart lê. Daar is net iets aan die warm, dorre vlaktes wat spreek tot jou siel. Toe ek 'n plek moes kies vir Karlia om heen te vlug, was daar vir my geen ander plek wat beter gepas het nie. Die Kalahari leen hom tot stille selfondersoek en soms ook geweldadige aanvaarding van dit wat jy is of nie is nie. Die isolasie dwing mens om jou lewe in perspektief te sien en ware karakter te ontdek.

Maar bowenal is Anders 'n liefdesverhaal. Sonder liefde is die lewe leeg en betekenisloos. Almal het liefde nodig—hetsy selfliefde, naasteliefde of die liefde vir 'n sielsgenoot. Soms is dit nodig dat mens weer hierdie noodsaaklikheid opnuut besef om 'n vervulde lewe te lei.

Hoop julle lees heerlik aan die boek en moet asseblief nie huiwer om my te laat weet wat julle dink nie.

Proe-stukkie uit Anders: 'n Paranormale Liefdesverhaal

Daar is ’n vreemde ondertoon in Armand se emosies. Hy voer 'n innerlike stryd, maar die emosies is 'n onsamehangende warboel. Wanneer hy omdraai om die melk in die yskas terug te sit, loop hy tromp-op teen haar vas. Sy het so gestaan en droom dat sy nie gesien het hy het die koffie reeds gemaak nie. Sy probeer uit sy pad staan, maar verloor haar balans. Dadelik gaan sy arms om haar en trek hy haar teen hom vas.

Haar asem stol in haar bors en haar mond word droog. Daar is nie tyd om sy gedagtes te analiseer voordat hy haar ken met sy vinger lig en sy lippe saggies op hare neerkom nie. Verwoestende emosies spoel deur haar. Begeerte, honger, opgewondenheid en 'n onmeetbare teerheid. Sy lippe raak dringender op hare en Karlia se arms gly asof vanself om sy skouers. Sy hare is sag onder haar vingers en sy draai die swart lokke om haar wysvinger. Wanneer sy tong toegang vra, skok dit haar tot nugterheid.

Wat doen sy? ’n Verhouding is buite die kwessie al is die man by haar se emosies 'n refleksie van haar eie. Sy kom kruip juis in die Kalahari weg. Die gevoelens wat hy aanwakker in haar, is beslis nie rustig nie en is nie goed vir haar verstandelike gesondheid nie.

Saggies druk sy hom weg en hy laat haar dadelik gaan. Sy oë is donker poele van begeerte wat aanklank vind in haar siel. Hulle asems jaag en sy weet as sy nie die situasie ontlont nie, gaan dit veel verder gaan as wat enige van hulle bedoel het.

"Ek gaan nie om verskoning vra nie. Daarvoor het ek te veel respek vir jou. Ek wou al van die eerste aand af weet of jou lippe werklik so sag is as wat dit lyk."

Karlia draai haar rug op hom. "Ek is bly jy vra nie om verskoning nie, want dit sal 'n leuen wees." Sy gryp die koppie en stap sitkamer toe. Wanneer sy in die stoel neersak, sien sy hy het haar geluidloos gevolg. Hoe kry die man dit reg om so stil te beweeg?

"Enige verhouding tussen ons is doodgebore. Ons wêrelde verskil te veel."

Armand gaan sit stadig op die stoel oorkant haar. "Hoekom dink jy so? Ons wêrelde is nou een. Hier in afsondering leer mens jouself ken."

"Nee, Armand. Dit mag dalk vir jou so wees, maar ek weet wie ek is en ek wil nie betrokke raak in enige verhouding nie."

Hy kyk haar vraend aan. "Hoekom? Waarvan hardloop jy weg?"

Sy skud haar kop. "Dis privaat. Ek voel gevly dat jy belangstel, maar ek kan en wil nie betrokke raak nie. Laat ons net vriende bly—as ons selfs dit is op die oomblik."

"Vriende deel hulle geheime. Vriende vertrou mekaar."

"Dan leer ken ons mekaar. Sonder die komplikasies van hormone wat 'n rol speel." Sy ignoreer die stemmetjie in haar kop wat waarsku dat dit reeds te laat is. Haar lyf moet leer om haar verstand te gehoorsaam. Nie andersom nie. Sy het nog nooit toegegee aan die begeertes van die vlees nie en is ook nie van plan om dit nou te doen nie.

"Is jy nie bietjie naïef nie? Ons is twee mense wat mekaar aantreklik vind op 'n afgeleë plek. Net die omstandighede alleen maak dit moeilik om die aantrekkingskrag tussen ons te ignoreer. Hoekom dit nie 'n kans gee en kyk waarheen dit lei nie?"

Hemel weet, dit sou soveel makliker wees. "Nee, Armand. Ons soek vir moeilikheid wat kon bly. Buitendien ken ons mekaar nie goed genoeg nie."

Hy neem die laaste sluk van sy koffie en staan op. Hy lyk moeg. "Ons sal mekaar wel leer ken. Hier moet jy op mekaar staatmaak." Hy stap na die kombuis en Karlia volg hom. Sy sit haar koppie by syne in die wasbak neer voordat sy die agterdeur oophou.

"Moet ek jou nie gou huis toe neem nie? Dit is regtig al laat."

Hy skud sy kop. "Moenie jou oor my bekommer nie. Ek ken my pad in die nag." Hy vryf met sy vinger oor haar wang en Karlia sluit haar oë teen die emosie wat in die aanraking opgesluit lê. Sy sluk swaar.

"Nou goed. Dan sien ek jou weer."

"Tot netnou Karlia." Sy hand streel 'n oomblik oor haar skouer voordat hy dit laat sak, omdraai en wegstap in die nag.

Karlia kyk hom agterna totdat sy silhouette verdwyn. Sy druk die deur agter haar toe en draai die sleutel in die slot. Soos 'n outomaat stap sy kamer toe en sit die ligte agter haar af. Slaap gaan vanaand moeilik wees.

Wednesday, August 19, 2015

Resensie: Liefdestango deur Dirna Ackermann



Van die agterblad:

“Jy bly weg van daardie man.” Dis al wat Dané uit haar ma kry oor die man wat terug is op Kransbaai nadat hy agtien jaar gelede net padgegee het. Hoekom Dané se verbintenis met hom nie haar ma se goedkeuring wegdra nie, kan haar ma nie sê nie—of sy wil nie.

En in so ’n klein gemeenskappie is dit in ieder geval nie moontlik vir twee mense wat eens op ’n tyd so naby aan mekaar was om mekaar te vermy nie. Veral nie terwyl Dané en hy nog soveel vuur vir mekaar in hulle harte dra nie.

Maar toe die waarheid uiteindelik uitkom, wens Dané sy het liewer nooit geweet nie.

My resensie:

Ek het hierdie verhaal werklik geniet. Dis een van die min Romanzas waar die hoofkarakter ’n ouer vrou is en miskien is dit waarom dit vir my lekkerder as gewoonlik gelees het. Dané is nie meer ’n uilskuiken nie, maar steeds leef sy haar lewe volgens haar ouers se reëls ten koste van haar eie behoeftes en begeertes.

Hierdie is so sprekend van die tye waarin ons leef. Min van ons kan onomwonde verklaar dat ons leef soos ons gedroom het ons sou. Die lewe maak draaie met mens en sonder dat jy dit besef suig jou eie behoeftes naderhand aan die agterspeen. En net toe Dané besluit om haarself te laat geld, begin die poppe behoorlik dans.

Die skryfster slaag uitstekend daarin om haar lesers vinnig gevange te neem en mee te sleur in die verloop van Dané se lewe. Wanneer die alledaagse lewe vervaag en jy verlore raak in die storie tussen die buiteblaaie, spreek dit van goeie fiksie. Dis ’n boek wat ek nie kon neersit nie ten spyte van ’n berg werk wat gewag het en daarom verdien dit volpunte.

Wednesday, August 12, 2015

Georganiseerde Chaos

order chaos


“Hoe organiseer jy jou lewe?” vra iemand nou die dag vir my.


“Organiseer?” sê ek oorbluf.

“Ja, man, hoe kry jy dit reg om by alles uit te kom?”

En daar staan ek met ’n mond vol tande. Die eerlike antwoord is dat ek nie ’n benul het van organiseer nie, maar ek kan dit mos nou nie so stel nie. Dis ’n ernstige vraag en ek wil aan de giggel gaan, want in my lewe heers daar altyd ’n mate van georganiseerde chaos.

sheep-710245_1280Eerstens bly ek op ’n plasie (bietjie groter as ’n plot en baie kleiner as ’n plaas) waar ons spekuleer met kleinvee en groente verbou. Ons het nie permanente werkers nie so daar is altyd baie om te doen. Ek is mal oor die winter wanneer die verbouing van die groente bietjie afneem weens die koue op die hoëveld. Dan kry ek normaalweg tyd om voor die rekenaar te spandeer en my vingers oefening te gee. vegetables-488119_1280Vanaf September berei ons lande voor vir tamaties, kool, spinasie en aartappels en is die dag nooit jou eie nie.

Tweedens woon my skoonouers by ons en dit op sigself moet ’n duidelike aanduiding wees van die hoeveelheid chaos daar daagliks is om te organiseer. Hierdie jaar het siekte ons genoop om die eerste ses maande van die jaar ons dae te probeer beplan na aanleiding van die dokters se diagnoses en die behandeling wat ontvang moes word.

once-upon-a-time-719174_1280Derdens probeer ek stories vertel. Ek het nie minder as vyf halfvoltooide manuskripte wat iewers in ’n donker hoekie van my rekenaar sluimer tot ek die dag die tyd het om dit af te stof en klaar te skryf. Soms skryf ek aan twee boeke gelyk, wat op sigself soms katastrofiese gevolge het.

Hoe kom ek deur die dag? Deur te prioritiseer. Die belangrikste vraag wat ek vra is of dit kan wag tot later. As die antwoord nee is, is dit wat eerste gedoen word. As die antwoord ja is, vra ek net of daar ernstige gevolge gaan wees as ek dit uitstel en as die antwoord ja is, word dit na die eerste doen lysie geskuif.

chameleon-855125_1280Die ander lessie is om altyd notas te maak. Ek het ’n goeie geheue maar wanneer die wêreld om my verander in ’n Smartieboksie en ek voel soos ’n verkleurmannetjie, is my breinkrag soos halfgaar roereier. ’n Onmisbare notaboekie is my foon se Notes funksie. Van kruideniersware wat aangevul moet word tot belangrike take wat ek moet afhandel word daarop aangeteken. Die dae van alles sommerso onthou is verby—daarvoor is die pas van ons daaglikse lewe te vinnig en die gevolge as jy ’n belangrike afspraak vergeet, te ernstig.

Dus die kort antwoord op haar vraag: Kry jou prioriteite reg en maak notas.

Hoe voorkom jy chaos in jou dag?