Monday, February 15, 2016

Anders: 'n Paranormale Liefdesverhaal

Vandag is Anders, 'n Paranormale Liefdesverhaal in Afrikaans vrygestel in die meeste aanlyn winkels en ook in gedrukte formaat by Amazon en Takealot.com. 'n Lys en skakels na die gewildste aanlynwinkels is op die boeke-blad aangebring.




Anders is die eerste boek in hierdie genre wat ek in Afrikaans aanpak. Die boek het werklik lank geneem om te voltooi omdat daar nie juis soortgelyke leesstof in Afrikaans is nie. Dis nie 'n populêre fiksieafdeling in Afrikaans nie en ek het geen verwysingsraamwerk gehad om te gebruik nie.

Paranormal Romance is 'n groot en gewilde kategorie in Engels, maar ek het nog nie regtig iets soortgelyk in Afrikaans raakgelees nie. Omdat ons mark so klein is, dink ek skrywers huiwer om hierdie stories te vertel, behalwe in die jong volwassene en tiener kategorië. Verder klink die paranormale terme soveel beter in Engels en wanneer jy praat van 'n shifter weet almal wat jy bedoel. Die Afrikaanse terme is egter nie so goed gevestig nie en soms het dit hare-uittrek geverg om 'n term te vind wat nie té anglisisties is nie.

Die verhaal speel ook grootliks af in die Kalahari—'n streek wat my na aan die hart lê. Daar is net iets aan die warm, dorre vlaktes wat spreek tot jou siel. Toe ek 'n plek moes kies vir Karlia om heen te vlug, was daar vir my geen ander plek wat beter gepas het nie. Die Kalahari leen hom tot stille selfondersoek en soms ook geweldadige aanvaarding van dit wat jy is of nie is nie. Die isolasie dwing mens om jou lewe in perspektief te sien en ware karakter te ontdek.

Maar bowenal is Anders 'n liefdesverhaal. Sonder liefde is die lewe leeg en betekenisloos. Almal het liefde nodig—hetsy selfliefde, naasteliefde of die liefde vir 'n sielsgenoot. Soms is dit nodig dat mens weer hierdie noodsaaklikheid opnuut besef om 'n vervulde lewe te lei.

Hoop julle lees heerlik aan die boek en moet asseblief nie huiwer om my te laat weet wat julle dink nie.

Proe-stukkie uit Anders: 'n Paranormale Liefdesverhaal

Daar is ’n vreemde ondertoon in Armand se emosies. Hy voer 'n innerlike stryd, maar die emosies is 'n onsamehangende warboel. Wanneer hy omdraai om die melk in die yskas terug te sit, loop hy tromp-op teen haar vas. Sy het so gestaan en droom dat sy nie gesien het hy het die koffie reeds gemaak nie. Sy probeer uit sy pad staan, maar verloor haar balans. Dadelik gaan sy arms om haar en trek hy haar teen hom vas.

Haar asem stol in haar bors en haar mond word droog. Daar is nie tyd om sy gedagtes te analiseer voordat hy haar ken met sy vinger lig en sy lippe saggies op hare neerkom nie. Verwoestende emosies spoel deur haar. Begeerte, honger, opgewondenheid en 'n onmeetbare teerheid. Sy lippe raak dringender op hare en Karlia se arms gly asof vanself om sy skouers. Sy hare is sag onder haar vingers en sy draai die swart lokke om haar wysvinger. Wanneer sy tong toegang vra, skok dit haar tot nugterheid.

Wat doen sy? ’n Verhouding is buite die kwessie al is die man by haar se emosies 'n refleksie van haar eie. Sy kom kruip juis in die Kalahari weg. Die gevoelens wat hy aanwakker in haar, is beslis nie rustig nie en is nie goed vir haar verstandelike gesondheid nie.

Saggies druk sy hom weg en hy laat haar dadelik gaan. Sy oë is donker poele van begeerte wat aanklank vind in haar siel. Hulle asems jaag en sy weet as sy nie die situasie ontlont nie, gaan dit veel verder gaan as wat enige van hulle bedoel het.

"Ek gaan nie om verskoning vra nie. Daarvoor het ek te veel respek vir jou. Ek wou al van die eerste aand af weet of jou lippe werklik so sag is as wat dit lyk."

Karlia draai haar rug op hom. "Ek is bly jy vra nie om verskoning nie, want dit sal 'n leuen wees." Sy gryp die koppie en stap sitkamer toe. Wanneer sy in die stoel neersak, sien sy hy het haar geluidloos gevolg. Hoe kry die man dit reg om so stil te beweeg?

"Enige verhouding tussen ons is doodgebore. Ons wêrelde verskil te veel."

Armand gaan sit stadig op die stoel oorkant haar. "Hoekom dink jy so? Ons wêrelde is nou een. Hier in afsondering leer mens jouself ken."

"Nee, Armand. Dit mag dalk vir jou so wees, maar ek weet wie ek is en ek wil nie betrokke raak in enige verhouding nie."

Hy kyk haar vraend aan. "Hoekom? Waarvan hardloop jy weg?"

Sy skud haar kop. "Dis privaat. Ek voel gevly dat jy belangstel, maar ek kan en wil nie betrokke raak nie. Laat ons net vriende bly—as ons selfs dit is op die oomblik."

"Vriende deel hulle geheime. Vriende vertrou mekaar."

"Dan leer ken ons mekaar. Sonder die komplikasies van hormone wat 'n rol speel." Sy ignoreer die stemmetjie in haar kop wat waarsku dat dit reeds te laat is. Haar lyf moet leer om haar verstand te gehoorsaam. Nie andersom nie. Sy het nog nooit toegegee aan die begeertes van die vlees nie en is ook nie van plan om dit nou te doen nie.

"Is jy nie bietjie naïef nie? Ons is twee mense wat mekaar aantreklik vind op 'n afgeleë plek. Net die omstandighede alleen maak dit moeilik om die aantrekkingskrag tussen ons te ignoreer. Hoekom dit nie 'n kans gee en kyk waarheen dit lei nie?"

Hemel weet, dit sou soveel makliker wees. "Nee, Armand. Ons soek vir moeilikheid wat kon bly. Buitendien ken ons mekaar nie goed genoeg nie."

Hy neem die laaste sluk van sy koffie en staan op. Hy lyk moeg. "Ons sal mekaar wel leer ken. Hier moet jy op mekaar staatmaak." Hy stap na die kombuis en Karlia volg hom. Sy sit haar koppie by syne in die wasbak neer voordat sy die agterdeur oophou.

"Moet ek jou nie gou huis toe neem nie? Dit is regtig al laat."

Hy skud sy kop. "Moenie jou oor my bekommer nie. Ek ken my pad in die nag." Hy vryf met sy vinger oor haar wang en Karlia sluit haar oë teen die emosie wat in die aanraking opgesluit lê. Sy sluk swaar.

"Nou goed. Dan sien ek jou weer."

"Tot netnou Karlia." Sy hand streel 'n oomblik oor haar skouer voordat hy dit laat sak, omdraai en wegstap in die nag.

Karlia kyk hom agterna totdat sy silhouette verdwyn. Sy druk die deur agter haar toe en draai die sleutel in die slot. Soos 'n outomaat stap sy kamer toe en sit die ligte agter haar af. Slaap gaan vanaand moeilik wees.

Wednesday, August 19, 2015

Resensie: Liefdestango deur Dirna Ackermann


Van die agterblad:

“Jy bly weg van daardie man.” Dis al wat Dané uit haar ma kry oor die man wat terug is op Kransbaai nadat hy agtien jaar gelede net padgegee het. Hoekom Dané se verbintenis met hom nie haar ma se goedkeuring wegdra nie, kan haar ma nie sê nie—of sy wil nie.

En in so ’n klein gemeenskappie is dit in ieder geval nie moontlik vir twee mense wat eens op ’n tyd so naby aan mekaar was om mekaar te vermy nie. Veral nie terwyl Dané en hy nog soveel vuur vir mekaar in hulle harte dra nie.

Maar toe die waarheid uiteindelik uitkom, wens Dané sy het liewer nooit geweet nie.

My resensie:

Ek het hierdie verhaal werklik geniet. Dis een van die min Romanzas waar die hoofkarakter ’n ouer vrou is en miskien is dit waarom dit vir my lekkerder as gewoonlik gelees het. Dané is nie meer ’n uilskuiken nie, maar steeds leef sy haar lewe volgens haar ouers se reëls ten koste van haar eie behoeftes en begeertes.

Hierdie is so sprekend van die tye waarin ons leef. Min van ons kan onomwonde verklaar dat ons leef soos ons gedroom het ons sou. Die lewe maak draaie met mens en sonder dat jy dit besef suig jou eie behoeftes naderhand aan die agterspeen. En net toe Dané besluit om haarself te laat geld, begin die poppe behoorlik dans.

Die skryfster slaag uitstekend daarin om haar lesers vinnig gevange te neem en mee te sleur in die verloop van Dané se lewe. Wanneer die alledaagse lewe vervaag en jy verlore raak in die storie tussen die buiteblaaie, spreek dit van goeie fiksie. Dis ’n boek wat ek nie kon neersit nie ten spyte van ’n berg werk wat gewag het en daarom verdien dit volpunte.

Wednesday, August 12, 2015

Georganiseerde Chaos


“Hoe organiseer jy jou lewe?” vra iemand nou die dag vir my.


“Organiseer?” sê ek oorbluf.

“Ja, man, hoe kry jy dit reg om by alles uit te kom?”

En daar staan ek met ’n mond vol tande. Die eerlike antwoord is dat ek nie ’n benul het van organiseer nie, maar ek kan dit mos nou nie so stel nie. Dis ’n ernstige vraag en ek wil aan de giggel gaan, want in my lewe heers daar altyd ’n mate van georganiseerde chaos.

Eerstens bly ek op ’n plasie (bietjie groter as ’n plot en baie kleiner as ’n plaas) waar ons spekuleer met kleinvee en groente verbou. Ons het nie permanente werkers nie so daar is altyd baie om te doen. Ek is mal oor die winter wanneer die verbouing van die groente bietjie afneem weens die koue op die hoëveld. Dan kry ek normaalweg tyd om voor die rekenaar te spandeer en my vingers oefening te gee. Vanaf September berei ons lande voor vir tamaties, kool, spinasie en aartappels en is die dag nooit jou eie nie.

Tweedens woon my skoonouers by ons en dit op sigself moet ’n duidelike aanduiding wees van die hoeveelheid chaos daar daagliks is om te organiseer. Hierdie jaar het siekte ons genoop om die eerste ses maande van die jaar ons dae te probeer beplan na aanleiding van die dokters se diagnoses en die behandeling wat ontvang moes word.

Derdens probeer ek stories vertel. Ek het nie minder as vyf halfvoltooide manuskripte wat iewers in ’n donker hoekie van my rekenaar sluimer tot ek die dag die tyd het om dit af te stof en klaar te skryf. Soms skryf ek aan twee boeke gelyk, wat op sigself soms katastrofiese gevolge het.

Hoe kom ek deur die dag? Deur te prioritiseer. Die belangrikste vraag wat ek vra is of dit kan wag tot later. As die antwoord nee is, is dit wat eerste gedoen word. As die antwoord ja is, vra ek net of daar ernstige gevolge gaan wees as ek dit uitstel en as die antwoord ja is, word dit na die eerste doen lysie geskuif.

Die ander lessie is om altyd notas te maak. Ek het ’n goeie geheue maar wanneer die wêreld om my verander in ’n Smartieboksie en ek voel soos ’n verkleurmannetjie, is my breinkrag soos halfgaar roereier. ’n Onmisbare notaboekie is my foon se Notes funksie. Van kruideniersware wat aangevul moet word tot belangrike take wat ek moet afhandel word daarop aangeteken. Die dae van alles sommerso onthou is verby—daarvoor is die pas van ons daaglikse lewe te vinnig en die gevolge as jy ’n belangrike afspraak vergeet, te ernstig.

Dus die kort antwoord op haar vraag: Kry jou prioriteite reg en maak notas.

Hoe voorkom jy chaos in jou dag?

Wednesday, November 19, 2014

Feminisme en Liefdesverhale: Kan die Twee Versoen?

Vandag het ek 'n oulike artikel raakgeloop oor die feministiese siening wat daar soms steeds oor liefdesverhale heers. Die artikel op die Romanzalesers-blog bevat lekker stof tot nadenke vir diegene wat ten spyte van wat die statistieke al bewys het, steeds neerkyk op skrywers van liefdesverhale.



Romanza en skeptiese feministe | Romanzalesersblog.




’n Genre wat fokus op die liefdesverhouding  tussen ’n  man en ’n vrou laat gereeld wenkbroue  lig, nie net by meeste mans nie, maar ook by vroue wat selferkende  feministe is.


Die perfekte oplossing (Hoëres)


Volgens die patriargale sisteem is ’n vrou  eers ’n volwaardige persoon nadat sy die titel van mevrou bygekry het. Indien sommige vroue dus romantiese  fiksie  wil vermy is dit te verstane.


Maar ons bevind ons nou in die 21ste eeu waar feminisme nie meer ’n vloekwoord is nie en feministe  ook nie meer hulle bra’s verbrand en hulle beenhare laat groei nie. Kaalvoet en pregnant is  by die deur uit saam met die siening dat ’n butch-voorkoms jou onafhanklikheid beklemtoon.


Janice Radway, ’n kenner op die gebied van romantiese fiksie,  se navorsing bewys dat feminisme eintlik ’n subversiewe  genre is omdat die skrywer  (en die leser)  mans skep soos vroue hulle wíl hê en nie soos hulle werklik is nie.


kaalvoet-oor-die-drakensberge-is-seker-nie-meer-van-toepassing-nie-maar-onthou-ons-beaumans-het-nie-voete-van-klei-nie-ons-dra-stiletto-s-van-staal-vanessa


En nee, die lesers is nie almal treurige oujongnooiens wat alle hoop op liefde begrawe het en nou maar ’n genadige einde met nege katte inwag nie. Dié genre se heldinne is  sterk vroue: besigheidsvroue, onderwysers, joernaliste, prokureurs – noem maar op. En so is die lesers, want die heldin is die leser se alterego.


Die romansegenre is onlosmaaklik verbind  aan die evolusie van die vrouebeweging. Vroue is weer  vroue sonder om hulle identiteit prys te gee en te probeer om soos mans te dink en te doen. Die moderne vrou voel sy is geregtig op haar eie tyd met ontvlugting soos romantiese fiksie wat haar emosioneel versorg. Want hoewel die kontemporêre vrou in teorie meer voordele het as haar susters van lank gelede, is sy steeds hoofsaaklik verantwoordelik vir die hele gesin se emosionele versorging terwyl sy op haar eie reserwes aangewese is vir haar eie versorging.


Kaapse draai (Hoëres)


Geen moderne vrou kan identifiseer met ’n sorry-Suzie wat te dankbaar sal wees om haar man se skoensole te soen nie. Dus is die heldin sterk, onafhanklik, trots en hoewel sy  nie, in die woorde van Romanzaskrywer Madelie Human, “haar bra hoef te verbrand om op haar regte te staan nie” – kry sy haar spreekbeurt.


Die held daarteen is haar gelyke. Hy vul haar aan en aanvaar haar ware self, sonder om ’n vloerlap te wees waar sy haar stiletto’s kan afvee. Hulle is lief vir mekaar en waarom kan die liefde en  feminisme nie hand-aan-hand loop nie?


Handomkeer_Madelie Human


Die feministe vergeet gerieflikheidshalwe dat romantiese fiksie ’n genre is wat deur vroulike skrywers oorheers word. Of dat dit vroue toegelaat het om hul eie geld te verdien in ’n era voor vroue die arbeidsmark kon betree.


Vurige heldinne  lewer beslis ’n bydra tot die  opheffing van vroue. Of dit so direk is soos die heldinne van die Davelvroue-reeks of meer indirek deur rolmodelle te wees.


Die Amerikaanse skrywer, Suzanne Brockmann, sê oor haar heldinne: “Ek dink die boodskap wat ek deur my boeke stuur is dat vroue sterk kan wees. En dat vroue sterk moet wees. En dat die liefde  nie gaan oor die verlies van jouself nie, maar eerder om saam met jou geliefde te werk. Dit gaan nie oor ‘Eendag sal my prins kom en my volledig maak nie’ eerder ‘Eendag gaan ek iemand ontmoet, en ons sal langs mekaar werk om saam ’n toekoms te bou.”


En dis die kern van die romanse:  Vroue word op ’n subtiele wyse bemagtig.


***


Vir meer inligting en lekker gesels en proestukkies uit Romanzaskrywers se penne, besoek gerus die Romanzelesersblog  op http://romanzalesers.wordpress.com/